|
|
|
|
|
|
Deur: Sandra van de Venter Ek was in die bevoorregte posisie om Suid - Afrika te gaan verteenwoordig in die "Commonwealh Chess Championship" aangebied deur die Venus skaakklub van Mumbai.. Daaroor is ek baie dankbaar want, dit was nie net 'n ervaring wat skaak aanbetref nie, maar ook 'n reuse lewens ervaring. (Vanuit my dagboek) 15 April 2003 11:50 am vlieg ek vanaf Johannesburg Internasionaal na Mumbai. 12:05 am Indië tyd land ons op Mumbai Internasionaal. Ek het 20 min. gelede by die hotel aangekom. Dis baie warm en bedompig, en een ding is verseker, as hier verkeersreël in die plek is, is dit baie skaars of niemand kom dit na nie, want dis net een getoet. Die pad wat ons gery het vanaf die lughawe het net een ding vir my gesê, die land is arm, die mense is baie arm. Hulle lê soos lyke op die strate en slaap. Dis wel 3 dae voor die toernooi begin, maar dit was nodig. Eerstens moes ek gewoond raak aan die klimaat en die hoë immuniteit, 45° vir die dag tempratuur is nie snaaks nie. Gelukkig het die hotel se kamers baie goeie lugreëling! Wat ek van die vlug sal onthou en my lewe lank by my sal bly, is die asemrowende sonsondergang. Die landing met die liggies van die stad wat soos goud skitter. 16 April 2003 Toe ek uiteindelik met 'n geklomp aan my deur en 'n stem wat sê: "Housekeeping" wakker word is dit 11:00 am (5:30 ons tyd). Ek het ver op die strand gaan stap in die hoop om 'n groot winkelsentrum of iets te kry. My hoop was gou iets van die verlede toe ek agterkom dit was 'n groot fout om alleen op die strand te stap. Die rede, ek staan uit, almal kan sien ek is nie van hier nie en almal kom uit hulle "skuilings" in die hoop om iets by my te kry. Met die gehaas terug na die hotel, merk ek iets baie interessant, vier mans het die skadu van 'n vierkantige tafeltjie opgesoek en daar sit hulle en dobbel. Daar is skaars plek vir hulle maar dobbel sal hulle dobbel. Later vandag waarsku die mense van die hotel my dat ek nie weer alleen moet gaan stap nie, maar hulle sal my laat weet as daar 'n groep uitgaan, dat ek kan saam gaan. 17 April 2003 Vandag het ek besluit om dit rustig te vat. Suid - Afrika speel vandag teen Indië krieket en toe die kelners hoor ek kom van Suid - Afrika is dit net een groot krieket gesels. Die mense hier is krieket mal. Ek moes hoor hoe ons span eindlik moes gelyk het en watter foute hulle maak. Vanaand is hier by die hotel 'n reuse dans ding en ek wonder of ek enige slaap gaan inkry. Dis blykbaar een of ander klub se 100 jaar bestaan vieringe. 18 April 2003 Wel toe het ek niks geslaap nie. Hul musiek het eers 3:30 vanoggend stil geraak en die gesels +/- 5:00. By ontbyt hoor ek by een van die kelners dit was veronderstel om 'n deurnag te gewees het. Dis net daar en dan dat ek besluit om in die bed te klim en te gaan slaap, want ek voel ek moet uitgerus wees vir die skaak en ek kan nie nou slaap mis nie. Teen 2:00 pm word ek eers wakker met 'n hol kol op my maag. Ek moet sê na vandag se middagete het ek groot respek vir my ma se kos gekry en ek sal nooit weer kla as dit te warm is nie. Wat ek nou ingekry het, brand nie net nie, DIT BRAND!! 19 April 2003 Soos enige goeie skaaktoernooi was die opening presies 'n uur laat. Die helfde wat gesê is kon ek nie verstaan nie. 'n Klomp mense is bedank en het spesiale toekennings vir iets gekry. Die toernooi is amptelik geopen deur 'n paar skuiwe wat gemaak is op 'n groot bord voor in die saal staan gemaak is. In teenstelling met die brand van die kos was die poeding baie interessant, dis oranje, plat, taai en baie soet. 20 April 2003 Vanaand is die eerste rondte van die toernooi. My eerste internasionale wedstryd. Ek is meer opgewonde oor die gevoel as oor die spel self. Ek moet sê ek kan met alle trots terug kyk na die spel en sê ek het my alle bes gegee en tog erger as die krieketspelers verloor. Die afgelope tyd het ek elke oggend voor ontbyt die vreemste hout brand reuk in my kamer gekry, tog het ek nie geweet waar dit vandaan kom nie. Toe kom ek agter dis die drie konkas wat onder by die swembad area staan, wat aan die brand gesteek is. Die vraag is nou waarvoor word die konka vure gebruik. Die antwoord is maklik, die goed wat ek pannekoekbrood gedoop het word daarin gemaak. Platgedrukte deeg word teen die gladde binne kant van die konka gegooi en na 'n kwessie van twee sekondes word dit weer met 'n snaakse haak verwyder. 21 April 2003 Vandag speel ons twee spelle. Na vanoggend se spel het ek gevoel soos 'n absolute beginner, wat nou eers die "gevorderde wêreld" leer betree. Ek het besluit elke spel wat nou gaan volg gaan ek as een standaard groot skaak les sien en so ver moontlik daaruit iets probeer leer en net verder my bes gee, want wat meer kan jy verwag as jy speel teen mense met FIDE graderings van oor die 2200?? Vanaand gebeur daar iets wat nog nooit van te vore met my in 'n toernooi gebeur het nie en dis om 'n loslootjie te kry. (jippie my eerste punt, maar ek wou dit nie op so 'n manier gekry het nie!) Tog het dit my die geleentheid gegee om met die grootkoppe van Indië se skaak te gesels en vir hulle te vra oor hoe kry hulle dit reg om soveel FIDE gegradeerde spelers te hê en so baie GM's, IM's, WGM's en WIM's. Die antwoord het so eenvoudig geklink vanaf een van die grootkoppe. Daar word gemiddeld in 'n jaar 15 internasionale toernooie reg deur Indië gehou en as hulle byvoorbeeld sien 'n kind of iemand toon potensiaal, dan sal hulle met die persoon se afrigter gaan gesels en sê wat verwag hulle van hom of haar en 'n mylpaal gee wat binne 'n kwessie van +/- twee jaar bereik moet word. As die persoon nie 'n afrigter het nie, word 'n afrigter aangewys om hom/ haar af te rig. So 'n persoon kry ook 'n borg van 'n groot maatskappy wat hom/ haar vir die res van sy/ haar skaak loopbaan sal dra. 22 April 2003 Vandag het ek nie veel om te sê, behalwe dat as hier eens op 'n tyd 'n gaasdraad tussen hier en die hel was om die plek af te koel, dan moes dit of baie, baie, baie lank terug gewees het of die aliens het hier verby gekom en dit gehijack, want dis vandag nie warm dis ......... WAAARM!! 23 April 2003 Wat kan mens sê, as mens nie sterk is nie moet jy net slim wees. Ek het net besluit vandag se spel gaan ek nie weer verloor soos die voriges nie, ek het terug geveg en 'n 1/2 gekry, jippie my eerste amptelike punte en dit teen 'n ou met 'n FIDE gradering van 2111! 24 April 2003 Na 'n dapper stryd het ek maar besluit ek sal maar die minste wees en die punt aan my opponent gee. Wat anders moes ek doen? Probeer wen teen twee dames op die bord. Wat kan mens sê, die mense hier speel 'n anderse skaak as ons daar by die huis. Tog het ek weereens na die spel agter gebly en na al die grootmeesters se spelle gekyk. Deur dit te doen was dit vir my soos 'n leerskool. Ek het begin verstaan oor hoe party van hulle dink, maar ander is se denkwyse is steeds vir my soos 'n toe boek wat die blaaie met gom vas geplak is. 25 April 2003 As ek nie pasop nie gaan ek dalk grootkop kry. EK HET PAS MY EERSTE INTERNASIONALE SPEL GEWEN EN DIT VOEL WONDERLIK. Een van die Russiese grootmeester ('n ou wat hy alleen weet hoe om sy naam uit te spreek) het na die spel met my kom gesels en vir my gesê hy hou nou al lank my spelle dop. Hy het vir my nogal baie raad gegee. Vanaand was daar ook 'n groot skaakboek verkoping. ( LW. die Indiëse Rupee is 16 sent werd) So onderhandel ek met die vrou en slaan 'n baken los van drie boeke wat my hier oor die R1000 sou gekos het, vir die pragtige prys van Rs 937,50 dws R150. 26 April 2003 Wat het ek ooit gedoen om dit te verdien? Ek speel teen 'n ou wat 'n Fide gradering van 2222 het. Dis asof die ou vir my wou sê deur sy spel: dankie vir die gratis punt! Hoe kan ek help, ek het al die basiese reg probeer doen, al wat fout was is dat hy maar net deksels goed is, dis al! Wat ek eindlik probeer sê, hy het met 'n glimlag oor my gestoomrol, (nie geloop nie). 27 April 2003 Die laaste spel. Ek het regtig alles in my vermoeë probeer, maar kon die gelykop nie omsit in 'n wen nie. Tog kan ek met trots sê ek het die toernooi en die geleentheid wat aan my gegee is om hier in Indië te kom speel meer as net geniet. Vanaand is die prysuitdeling en elkeen het in uitnodiging daarheen gekry, ongelukkig kon ek dit nie bywoon as gevolg van omstandighede buite my beheer. 28 en 29 April 2003 Vanoggend het ek vroeg opgestaan om die uitslae te gaan kry. Die Vietnamese GM wat 14de geloot was het toe die toernooi gewen en is nou US$ 2 500 ryker. Ek het vir een van die ouens by die Venus skaakklub gevra om al die foto's van die prysuitdelingvir my te e-mail. Teen 9:00 vanoggend reël ek vir my 'n motor met 'n bestuurder vir vandag en môre om vir my Mumbai te gaan wys, teen die skame bedrag van Rs 1680 dws R268,80. Hy het vir my letterlik alles gaan wys. Ek was in die huis van Gandi, ek het die krieketspeler Tendulkar se huis gesien (dis nie 'n huis nie, 'n paleis is 'n beter beskrywing). Tempels van allerhande gode, gedenkwaardighede, museums, ens. Een ding is verseker, die mense wat arm is, is meer as net arm en dit maak mens baie hartseer om 'n klein kindjie te sien bedel wat regtig honger is en te weet jy kan nou vir hom iets gee, maar wat van môre? Nadat ek al vat besigheidsman wat my probeer indoen het net omdat ek 'n buitelander is, iets van sy eie medisyne gegee het, en met 'n paar bakens weggestap het is ek terug hotel toe om te gaan pak. Vanaand 11:10 moet ek op die lughawe wees. Oppad terug in die vliegtuig het ek net besef watter wonderlike geleentheid en voorreg was dit nie om as verteenwoordiger van my land na 'n vreemde land daar te gaan speel nie. Nou is ek terug by die huis en aan elkeen daar buite wat die geleentheid vir my moontlik gemaak het, tannie Marisa en elkeen op die komiteë wil ek net sê, baie, baie, baie duisende dankies vir die wonderlike geleentheid. Vir elkeen wat al so 'n ervaring gehad het en of nog sal kry wil ek ook sê, bly nederig daaroor en moet nooit vergeet dat dit 'n talent is en 'n genade gawe wat jy van jou Skepper ontvang het nie, en moet nooit vergeet dat die lof Hom toekom! Nogmaals dankie! Sandra van de Venter |